Churchil Naude – van Kroeskop na Kroesified

Ek weet al van Churchil Naude en sy musiek vir ongeveer 6 jaar of so, en was baie opgewonde oor sy debuut album wat laas jaar uitgekom het – ek het vir weke lank amper net dit geluister werk toe en terug. Ek het met Churchil gepraat oor waar hy vandaan kom, sy musiek, sy debuut album, sy nuwe album op die horison, en natuurlik oor Afrikaans. Hoop julle geniet om die te lees, soos ek het!

 

Ek was gebore in Oos Londen en het Kaap toe getrek toe ek nog n snotgat was . Die tydperk waarin ek gebore is, was ek maar net n nommer op ’n hospitaal folder en nog ’n mond om te voed . Ek dink nie eers ons het ’n kamera besit nie so ek kan nie vir julle ’n paar nappy pics gooi nie . Musiek was nie hoog op die lys van daaglikse goedere wat in my lewe gebeur het toe ek klein was nie, dit was maar net iets wat oppie radio was . Ek het grootgeword in die dae toe hi-fi nog die wi-fi was . My ma het eendag n gramophone by ’n ou wit tannie gekry met omtrent so vyf en twintig 7-inch singles daarin . Die enigste plek vir die kontrapsie was toe in my kamer en daar het ek en daai gram nagte saam spandeer . Dit was ’n awakening vir my . Daar was meestal 70s musiek in met bands soos Queen, Boney M, Bee Gees en n paar R&B goed soos Manhattans en Earth wind and fire.   

 

My eerste album se titel, Kroeskop vol Geraas, was inspireer deur Breyten Breytenbach se “Mond vol vuur” en Koos Kombuis se “Elke boemelaar se droom”. Ek het gedink dis die coolste kak wat ek ooit gehoor het. Kroeskop gebruik ek want dis ’n slegsê woord en ek vat die krag van daai woord weg van die slegsêers sodat hulle dit nie meer kan gebruik as n slegsê woord nie. Vol geraas is omdat daar n verskeidenheid musiekstyle op die album is want dis die roots van hip-hop, nie soos deesdae waar jy enige tien random rappers vat en dan klink elke dôner dieselle soos die next een nie.  Kroeskop vol Geraas het n tydtjie geneem om die lig te sien want dit was n kombinasie van fokol geld, luiheid, moed verloor, die sterre wat nog nie in alignment was nie en die regte mense met wie jy jou visie mee kan deel.

Ek het nie juis ’n skryfproses nie ek skryf maar waar en wanneer ek wil. Writers’ block is ook nie iets wat ek veel oor dink nie want ek het seisoene van skryf unless daar ’n deadline is. Daar is tye waar ek net ’n lyn of twee neerpen en dan is daar tye waar ek n hele song in een sessie skryf. Ek en Riku Lätti het in mekaar se lewens gebeur toe die tyd reg was. Ek kon ’n album in my kamer doen met n paar beats en ’n mic maar dit was nie wat ek wou hê nie en ek het ook uitgevind dat dit n mission is om, as jy saam met mense werk, almal op die selle page te kry in terme van wat ek wou hoor op die album. Riku en Frazer Barry van Tribal Echo was ook die eerste ouens waarmee ek saam gewerk het wat my gevra het wat èk wou doen in plaas van, kom ons doen dit en kom ons maak so en dit moet so gedoen word want dis hoe anner dit doen. Ons het nie die reëls by die venster uit gegooi nie maar het net nie note gevat daarvan nie .

Anton se Birthday

 

My nuwe album is getiteld ‘Kroesified’. Die titel is iets wat al ’n tyd in my kop ronddwaal en dit gaan ook aan waar Kroeskop vol geraas aflos . Kroesified speel rond met die ideë van moderne slawerny en spesifiek vir my hoe my ma haar letterlik dood moes werk om kos op die tafel te sit. My ma het vir n dry cleaners gewerk, Nannucci, en die mense daar werk openlik met chemicals wat hulle kanker gee en die base doen fokol daaroor nie. So dis waar die titel vandaan kom. Mense word gekroesify deur n sisteem wat hulle verryk van anner se bloed en die kinders moet hulself groot maak want beide ouers moet gaan werk. Die temas wat ek oor praat op die album is bietjie donker maar miskien is dit n soort van, anderkant van die muntstuk tipe ding want die Afrikaans musiek wat jy deesdae hoor is net te bright en breezy en so fokin vals dat dit jou letterlik naar maak.

Die album praat oor die feit dat die reënboog nasie net ’n intermission is wat mense skree en oor praat en skryf as die oë van buitelanders op hul is of as die goewerment die fokus van hul kak leierskap wil skyf. Die album praat oor die feit dat wit nog steeds wit is, dat daar ’n swart elite is en die ander swartes maar nog steeds afkak soos van tevore en dat bruines maar nog in die middel is waar hulle altyd was. Die album is nie n aanval nie maar ek dink dis wat vir my real is in my lewe nou. Daar gaan moontlik ’n song wees oor skoenlappers en blomme op die album want Jackie Lätti, Riku se vrou, het gemoan dat ek te donker is ons sal maar sien.

1233334_10152811957382008_1466902352659142533_n
Churchil links, met Frazer Barry van Tribal Echo links (blou hemp)

Afrikaans word nogsteeds gesien as n wit taal en ek sien dat daar deesdae n moerse damage control besigheid aan die gang is met organisasies soos AfriForum wat nou in die media noem dat die oorgrote meerderheid Afrikaans sprekendes bruin is. Ek vat sulke statements maar met ’n moerse knip sout en tequila want dit voel vir my soos daar ’n “kom ons gebruik die bruines om ons agenda te push” daaragter skuil en ek vertrou dit net fokol. Die dag wanneer een van daai moere saam my in Mitchells Plein op my stoep ’n dop kom drink is die dag wanneer ek sal sê dat daar grense verskuif word. Die dag wanneer kak woorde soos suiwer en korrek verwyder word as daar van Afrikaans gepraat word moet nog gesien word. Niemand sal vir my sê hoe ek moet praat of hoe ek moet dink nie want dis waar die kak begin het. Ek sien fokol verkeerd met hoe jy wat in Pretoria of Pofadder woon jou Afrikaans praat nie so moenie saam my kak soek as ek praat die way ek praat nie. Afrikaans het in Suid Afrika ontstaan en dis n opgemieksde taal soos ons eie potjiekos en as enigiemand vir jou anders sê dan praat hulle saam met jou kak. Iemand het êrens in ons geskiedenis besluit dat daar net een manier is om te praat en dis dit, sonder om aan die meerderheid Afrikaans sprekendes te dink en ons noem hulle die swartpak-brigade. Hulle is ook die etters wie so moan dat Afrikaans besig is om dood te gaan maar hulle is einste die rede hoekom Afrikaans so aangeval word vandag want hulle het kak gesoek en toe kak gekry. Afrikaans is vir my soos rooiwyn. Jy verwag mos nie rooiwyn wat in ander streek gemaak word moet dieselle proe soos joune nie so hoedefok verwag jy dit van Afrikaans. Afrikaans sal nooit kan groei as ons nie die eerlik is met mekaar nie .

FB_20160209_18_20_31_Saved_Picture
Churchil saam met Piet Botha en Lochner de Kock

Ek het al met twee van Suid-Afrika se legendes , Koos Kombuis en Anton Goosen, gewerk en dit was unreal vir my want hulle het my gekontak. Die lys het net meer en meer geword en so het ek ook saam met David Kramer, Anna Davel, Gian Groen, Benjamin Voete, Piet Botha, Gert Vlok Nel, Laurinda Hofmeyer, Bachus Nel, Les Javan, Loit Sôls, Schalk Joubert, Willem Welsyn, Rian Malan en ek gaan nou stop want daars nog ’n moerse klomp ander, gewerk. En die lys raak daagliks meer! Ek is moers bevoorreg om met sulke genuine mense te kan beweeg en werk. Dit is mos presies waaroor Die Wasgoedlyn ook gaan en ek is moerse trots om deel van die projek te wees.

 

My musiek is beskikbaar by

tunelink.co.za/churchil

 

Julle ouens kan my check op :

youtube.com/churchilnaude

Twitter – @kroeskop

soundcloud.com/kroeskop

 

FaceBook – Meneer Naude of Bruin Bliksem

 

Churchil se musiek is ook op Deezer en Google Play music beskikbaar

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*