‘n Gesprek met Hanru Niemand

Hanru Niemand se musiek het nog altyd ‘n spesiale plek op my rak van gunsteling musiek gehad en ek het besluit om met hom te gesels vir die eerste artikel op opdienet.co.za. Julle kan Hanru se webwerf besoek by hanruniemand.co.za en sy musiek gaan luister op Soundcloud – soundcloud.com/hanruniemand

Beskryf die musiek wat jy maak, hoekom jy dit maak, en wie normaalweg daarvan hou?

Ek sukkel altyd om my musiek te beskryf. Meeste van die tyd beskryf mense dit as Folk, maar so hier en daar is daar sterk sprake van `n cabaret-agtige style, dink bv aan Jacques Brel en Herman van Veen. Ek kan eerlikwaar nie dink juis hoekom ek musiek maak nie. Dis asof ek nie `n keuse het nie, ek het `n drang om songs te skryf. Daar is die heeltyd wysies in my kop en, so af en toe, as die lirieke ook uit-‘pop’, dan kom `n song vorendag. Hoewel ek nie baie bekend is nie, is daar nogal `n wye verskeidenheid mense wat van my musiek hou, van ou tannies tot hipsters! Sommige hou van die musiek, ander hou juis van die lirieke, sommige hou van my stem, ens, ens.

Wie is Hanru, as hy nie musiek maak nie?

Bedags is ek `n Kliniese Sielkundige in Durbanville. Ek gee ook bietjie klas by Tygerberg. Ek doen meerendeel die hele voorstedelike ding, maar ek probeer altyd tyd maak vir die musiek.

2014-03-15 21.04.48 DSC_0034

Vat ons kortliks deur jou loopbaan – albums, hoogtepunte, laagtepunte en gunsteling optredes.

Ek het nou al drie albums uit. ‘Tot Stilte’ (2007), ‘Roepwoorde’ (2010) en nou die EP  ‘Kreeftegang’. Daar was al baie hoogtepunte: Ek het nog altyd baie goeie resensies gekry, waaroor ek baie dankbaar is. Mariana Malan het in 2010 ‘Roepwoorde’ as een van haar top albums van die jaar beskou. Ek het al saam met baie van my helde opgetree: Gert Vlok Nel, Buckfever Underground, Koos Kombuis, Anton Goosen, Laurinda Hofmeyr. Dis iets waarop ek baie trots is. Optredes oor die algemeen is vir my baie spesiaal. Die mense wat saam met my daar is, vriende en musikante, is wat dit vir my regtig lekker maak om `n musikant te wees. So hier en daar is daar besonder slegte optredes. Veral een staan uit: Ek moes, as deel van `n Gautengse toertjie, by `n Keg in Witbank speel. Dit was `n aaklige plek. Die bestuurder het my na twee songs gevra om te stop en `n R150 in die hand gestop.

Ek het jou musiek leer ken deur die musiek video van Tot Stilte wat in Dorpstraat Teater geskiet is. Hoe voel jy oor venues soos Dorpstraat Teater wat toemaak en verdwyn?

Teaters wat toemaak is baie hartseer. Ek is steeds hartseer oor Dorpstraat. So ook oor Klein Libertas en Steak & Ale wat afgebrand het. Oor die algemeen is dit deesdae baie moeilik om geld te maak uit musiek uit. Mense is gewoond daaraan om hul musiek verniet te kry en as die geldsake druk, dan is live musiek nie juis hoog op mense se prioriteitslys nie. Dis baie jammer, want dis tipies die goeie musikante, wat nie kommersieel is nie, wie se geldsake eerste `n knou kry.

Vertel ons meer oor jou nuutste album, Kreeftegang.

Kreeftegang is `n EP wat sinspeel op die idioom: ‘die kreeftegang gaan’. Ek is eintlik nogal verbaas mense ken nie die uitdrukking nie, dis tog iets wat nog gereeld in Die Burger gebruik word. Dalk lees mense nie meer Die Burger nie. Die uitdrukking dui op iets wat stadig agteruitgaan, soos bv SA Rugby. Dit is die bindende tema van die 5 liedjies op die album. Ek hou daarvan as `n album `n geheel vorm. Mens moet hom sommer ‘one-shot’ deurluister. Kreeftegang is op bestelling by my beskikbaar, of by shows. Dit is ook elektronies beskikbaar by iTunes. Daar is ook twee ander songs, wat nie op Kreeftegang is nie, wat op iTunes is: Banting & Chips en ‘Ek het `n Afrikaanse liedjie geskryf’. Beide is grappige liedjies wat ek hoop mense graag na sal luister. Dis sover nogal gewild by shows.

Kreeftegang Artwork Draft 1 (2)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*