Persvrystelling | Track Five in die Drostdy Teater

Groot planne: Die vyf-stemmige vokale groep Track Five het groot planne vir hul opwindende vertoning eerdaags op Stellenbosch. Van links is Arthur Pietersen (hurkend), Madri Gerber, Gavin Fullard, Karen de Goede en Michelle van Zyl. (Foto: Graham Richardson)

As ʼn aand van sprankelende vermaak, ʼn bietjie kabaret, strelende jazz en vrolike A Cappella sang jou aanstaan, moet jy nie Track Five se optrede in die Drostdy Teater op Stellenbosch op 23 November misloop nie.

Track Five, beskou as een van die beste sanggroepe in Suid-Afrika, keer terug na dié Bolandse dorp ná die suksesvolle vrystelling van hul vyfde CD, Love You Madly, in April vanjaar.

Volgens Track Five se stigter, bariton Gavin Fullard, sal dit die eerste keer wees dat die groep – bestaande uit jarelange lede Fullard, Michelle van Zyl (2de alt) en Arthur Pietersen (bas) asook nuwe lede Madri Gerber (sopraan) en Karen de Goede (1ste alt), albei gekwalifiseerde musikante – saam optree sedert Pietersen vroeër vanjaar onder die mes was.

“Ons is so bly om weer vir Arthur saam met ons op die verhoog te hê,” sê Fullard. “Die aand is dus ʼn viering van sy terugkeer en ons beloof iets vir elkeen, met sommige bekende en sommige nuwe klanke om te geniet.”

Pietersen, van Belhar, voeg by: “Om terug te wees by Track Five is, om die lirieke van een van Gavin se komposisies aan te haal, ‘therapeutic and really so cool’. Om ʼn tweede kans in die lewe te kry, maak dat ʼn mens die gawes van God selfs meer as voorheen waardeer.”

Musici wat by Track Five aansluit vir hul konsert, getitel An Unforgettable Connexion, is jazz-musikant Ramon Alexander (klawerbord), Leonore Bredenkamp (baskitaar), Annemie Nel (dromme) en Fullard se vrou, Engela Fullard (dwarsfluit). Tesame sal hulle die gehoor trakteer op ʼn verskeidenheid oorspronklike komposisies deur Fullard, opgekikkerde Afrikaanse gunstelinge en ʼn aantal geliefde klassieke jazz-nommers.

Die altyd romantiese Fullard, ʼn vaardige komponis, sal vir die eerste keer saam met die groep sy nuwe lied Connexion, wat hy bestempel as ʼn “kwalik bedekte huweliksaanbod”, by die Drostdy uitvoer.

“Ons wil graag vir ons gehoor wys hoe jazz, wat vir sommige mense ʼn vloekwoord is, verleidelik mooi dog terselfdertyd opwindend kan wees, deur byvoorbeeld ou gunstelinge met ʼn tikkie smaakvolle andersheid uit te voer.”

As ʼn mens hom uitvra oor die groep se planne noudat Arthur weer op die been is, kan Fullard sy opgewondenheid skaars beteuel.

“Wel, ons werk natuurlik nou aan CD nommer ses en hoop om dit laat volgende jaar vry te stel!”

Kaartjies vir die 1 ½ uur vertoning teen R120 is beskikbaar by die Drostdy Teater deur vir Lionel te kontak by info@drostdyteater.co.za of op 071 931 9954.

track-five-bied-vir-gehore-n-unforgettable-connexion-by-die-drostdy-teater-aan2

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*